top of page
Search

Ouma Corrie se koek

Writer: MaridaMarida

Elke Saterdagmiddag het Ouma Corrie en Oupa Danie by ons kom kuier. Presies om vieruur het Ouma se wit Datsun om die draai gekom. Ouma het altyd vir ons ’n sakkie tuisgebakte vetkoek gebring wat Sondagoggend se ontbyt was.

Sondae het ons weer by hulle gaan kuier. Ook om vieruur. Teen die tyd wat ons hoërskool toe is, het ons maar redelik langtand saamgegaan op die weeklikse ekspedisie. Die aanhangsels is vrywillig verplig om saam te kuier, want niemand is verskoon van die besoek aan Ouma en Oupa nie. Twee dinge het dit altyd die moeite werd gemaak. Die sjokolade wat Oupa getrou elke week vir ons gekoop het en Ouma se koek.

Dit was tradisie dat ons almal om die kombuistafel gesit het. Ouma het tee bedien in haar deftige koppies. Die Great Dane het ook ’n stuk koek oor die agterdeur gekry. Ek het geen idee gehad wat die naam van die koek was wat Ouma week na week gemaak het nie, maar dit was iets besonders. Dit was ’n wit koek met geen versiering nie. Tog was dit die lekkerder as enigiets anders. Hoe langer die koek gestaan het, hoe beter het dit gesmaak. Ouma is later oorlede en ons het Ouma en die koek gemis.

Jare later eet ek en my man ontbyt by Hotel Alesia, ’n piepklein hotelletjie in Beaune, ’n pragtige dorpie in Frankryk. Die gawe eienaars bederf ons met ’n ontbyt wat bedoel is om heeldag te hou. Vars lemoensap, koffie en ’n verskeidenheid van watertand gebak in oorvloed. Terwyl ons gelyktydig ’n happie neem van iets wat lyk soos ’n sny koek, val ons monde oop. “Ouma Corrie se koek!” roep ons altwee uit.

Terug by die huis het ek dadelik na die resep vir Ouma se koek begin soek. My ma kon gelukkig help en eintlik was dit toe net ’n tipe poundcake. Ek het die resep sommer op ’n paar plekke neergeskryf en dit sedertdien gereeld gemaak. Dit proe al amper soos Ouma se koek. Probeer dit gerus!

Bestanddele

2 koppies suiker

250 g margarien

1 t vanilla

3 eiers

3 koppies meel

1 t kremetart (cream of tartar)

½ t sout

½ t koeksoda

1 koppie melk


Metode

Klits die margarien en suiker baie goed. Volgens Ouma was dit die geheim van die koek se sukses.

Voeg vanilla by.

Klits eiers 1 vir 1 by (ook deel van die sukses).

Sif die droë bestanddele.

Meng die melk en koeksoda.

Meng die droë bestanddele en melk/koeksoda om die beurt by die margarien mengsel.

Bak in ’n gesmeerde pan vir 1 uur by 180 grade.

Keer uit op ’n draadrakkie en laat afkoel.

Dit lewer ’n taamlike groot koek wat na ’n dag of wat op sy beste smaak!

 
 
 

Recent Posts

See All

Maverick se suurlemoentert

My “Maverick” kind word 21. Daar is lank reeds ’n onrustige gevoel in my binneste oor die aard en omvang van hoe hierdie geleentheid gaan...

コメント


Volgende in Vonkel en Vlieg :

         Die brood is op!

  • Marida van Schalkwyk
  • born2bviolet

@2019 deur VonkelEnVlieg

bottom of page