Soms proe ek aan daai klein “testertjies” wat hulle in winkels aanbied... gewoonlik by die soet afdeling. Wanneer ek regtig daarvan hou vind ’n kettingreaksie plaas wat ek nie kan keer nie. Plaas dat ek net die koekies of wat-ook-al koop en klaarkry, moet ek dit self probeer maak. Eers vaar ek in my resepteboeke in en deurkruis die internet… omtrent 73 resepte later het ek gewoonlik iets wat naastenby klink of lyk na wat ek in die winkel beleef het. Die resep word dan sorgvuldig afgeskryf in my deumekaar, swart hardeband resepteboek. Heelwat later, soms ‘n jaar of twee, voel ek uiteindelik verplig om die lekkerny te probeer.
Met dié wat dadels nou weer so in die mode is, lui daar ’n klokkie in my kop van ’n dadelballetjie resep wat ek lank terug beplan het om te maak. Na ’n ellelange soektog kry ek uiteindelik vir dadelballetjies, maar besef dat die moderne weergawe ietwat anders daar uitsien. Myne klink heeltemal te soet. Deesdae word dit mos met rou kakao gemeng om ‘n gesonder weergawe te maak. My nuuskierigheid moet egter eers bevredig word voordat ek die ou resep kan verruil vir iets nuut. Soos gewoonlik het ek geen idee waar die resep vandaan kom nie, maar dis nogal lekker vir die kinders se kosblik of vir ’n teetyd eksamen bederfie.
Dadelballetjies

Bestanddele
30 g botter
1 eier
1 pakkie dadels (250g)
1 pakkie Cream Crackers (200g) fyngemaak
½ koppie suiker
5 ml vanilla
klapper (om die balletjies in te rol)
Metode
Smelt die botter en suiker in ’n medium pot.
Roer die eier by. Sny die dadels in kleiner stukke en voeg by.
Roer op lae hitte totdat die dadels redelik fyn is. Dit neem ten minste 10 minute.
Verwyder van hitte en roer die vanilla en Cream Crackers by.
Gooi die klapper in ’n aparte bakkie.
Tot op die stadium werk ’n houtlepel perfek, maar ongelukkig moet jy verder jou hande gebruik.
Rol die dadelmengsel in klein balletjies en rol dan in die klapper.
Verkoel tot benodig. Die resep lewer 25 groterige balletjies.
Jy kan tot 40 netjiese, fyn balletjies hieruit kry, maar soos my skoonma altyd sê: “Ek maak dit mos nie vir die Kerk nie.”
Comments