top of page
Search

Maverick se suurlemoentert

Writer: MaridaMarida

Updated: Aug 15, 2019

My “Maverick” kind word 21. Daar is lank reeds ’n onrustige gevoel in my binneste oor die aard en omvang van hoe hierdie geleentheid gaan uitspeel. Niks wat hy beplan is ooit net maklik en gewoon nie. Dit opsigself is geen probleem nie, want alles wat hy aanpak eindig in ’n unieke, kreatiewe en opwindende affêre. Die probleem is dat ek teen wil en dank by al hierdie aksies ingesleep word. Getrou aan my aard laat ek my maklik meevoer met al die idees, net om later te wonder wat op dees aarde my besiel het.


Gelukkig weet ek dat hy nie noodwendig groot skares wil vermaak nie. Ek herinner hom sommer vroegtydig aan die reël dat mens soveel gaste kan hanteer as wat jy oud is. Met dié reëling is Maverick doodtevrede, want sy hartsvriende kan inpas in ’n groep van 21… wat toe 26 word.


Al wat Ma die keer hoef te reël is dat sy gunsteling suurlemoentert daar sal wees. Siende dat studente beslis nie krities gaan kyk na die samestelling van die tert nie, is die staatmaker, kortpad resep heel voldoende. Om die etery te vergemaklik besluit ons om individuele tertjies te maak. Goue kolwyntjie houers en goue poeier sal gebruik word om die doodgewone tertjies te omskep in iets meer feestelik. Die toetslopie het die stempel van goedkeuring gekry, Maverick is tevrede en Ma kan ontspan.


Jy benodig

¾ pakkie tennis beskuitjies, fyngemaak

75 ml gesmelte botter

1 blikkie kondensmelk

100 ml suurlemoensap

gerasperde suurlemoenskil

4 eiergele

2 eierwitte

75 ml strooisuiker


Metode

Meng die botter en die beskuitjies goed. Druk die mengsel in die onderkant van die tertbak vas en sit in die yskas.

Meng die kondensmelk, eiergele, suurlemoensap en –skil saam. Skep bo op die kors.

Klits die eierwitte tot styf. Gooi die strooisuiker bietjie vir bietjie by. Klits totdat die mengsel dik en glansend is. Smeer bo op die suurlemoenvulsel.

Bak vir 20 – 30 minute by 160 grade tot die meringue ’n mooi goue kleur het.


*Die resep kan net so verdubbel word, maar gebruik nog steeds net 4 eiergele.

*As jy klein tertjies wil maak, gebruik ’n spuitsak vir die meringue .

 
 
 

Recent Posts

See All

Ouma Corrie se koek

Elke Saterdagmiddag het Ouma Corrie en Oupa Danie by ons kom kuier. Presies om vieruur het Ouma se wit Datsun om die draai gekom. Ouma...

Comments


Volgende in Vonkel en Vlieg :

         Die brood is op!

  • Marida van Schalkwyk
  • born2bviolet

@2019 deur VonkelEnVlieg

bottom of page