top of page
Search

Carmen

Writer: MaridaMarida

Die son skyn warm toe ons uit die kerk kom. ’n Luilekker herfsdag strek voor ons uit. Op pad winkel toe loer ek vinnig na my selfoon en wonder verbaas watter groepie nou weer so baie Whatsapps gestuur het. Seker maar die week se hokkie reëlings wat deurgekom het. My oog vang die naam “Carmen” en ’n duisend gedagtes verlam my kop en lyf. Ek ken net een Carmen. Die een wie se man al vir baie jare lank my kollega is. Die een wie se seun saam met my seun op laerskool krieket en rugby gespeel het. Wat die spelers met soveel oorgawe kon aanmoedig of ontmoedig dat sy later deur die organiseerders stilgemaak moes word. Carmen wat so kan lag dat vreemdelinge saamlag, al het hulle geen idee waaroor nie. Die pragtige vrou met die grootste omgeehart. Die kok wat ‘n pot kerrie aanmekaar kan slaan soos niemand anders nie. Daarvan getuig die goedige geterg en geskimp elke keer wat haar man sy middagete warm maak by die werk en ons al kwylend moet toekyk. Die vrou wat die lewe voluit leef, wie se huis altyd oopstaan vir vriende en familie. Ook vir vriende van vriende. Dieselfde vrou wat al vir baie jare ’n pad stap met kanker. Vir wie gesond wees en siek wees later so vervleg is, dat daar nie meer onderskeid is nie. Wat aanhou om die lewe te leef en haar deur niks laat stuit nie. Wat aanhou om kos vir haar gesin te maak, al moet hulle later ’n handjie bysit en haar instruksies volg. Altyd met ’n glimlag, altyd met grasie.

Die boodskap sê dat Carmen vroeg die Sondagoggend Huis toe is. Dit kan mos nie wees nie. My verstand wil nie glo wat my oë lees nie. Wat van haar man en kinders? Wat van haar famile en vriende? Niemand is nie reg hiervoor nie. Die verslaenheid sak oor my neer en wil die asem terugdruk in my keel. Ek sukkel vir die res van die dag om aan enigiets anders te dink.

Tog, hoe meer ek aan Carmen dink, hoe meer lig die swaarmoedigheid. Hoe ligter word die hartseer. Ek besef dat die onvulbare leemte wat sy los by verre oorskry word deur haar nalatenskap. Maak nie saak hoe ek aan haar dink nie, die gedagte eindig altyd waar ek glimlag oor Carmen. Oor die dinge wat sy kwytgeraak het. Sy was uitgesproke, het ’n ding op sy naam genoem. Het jou vasgevat as jy drooggemaak het, maar altyd met liefde. Sy was ’n lag-mens. Sy was ‘n inspirasie. Sy was enig in haar soort. Carmen-by-die huis, Carmen-van-die-skool en Carmen-van-die-kerk was presies dieselfde mens. Dan kom die woorde van Thomas Campbell by my op. “To live in hearts we leave behind, is not to die.”


Carmen, my skat, jy sal vir altyd voortleef in ons harte!

 
 
 

Recent Posts

See All

Nooiensvlug

Mens begin ’n blog wanneer jy kalm en rustig is. Dan maak jy lysies van al jou gunsteling Afrikaanse woorde soos vlinder, vonkel,...

Comments


Volgende in Vonkel en Vlieg :

         Die brood is op!

  • Marida van Schalkwyk
  • born2bviolet

@2019 deur VonkelEnVlieg

bottom of page