top of page
Search

Petrichor in Calvinia

Writer: MaridaMarida

Dis reeds ’n jarelange tradisie van ons en die Spangenbergs om in Augustus Calvinia toe te gaan. Wanneer Vrouedag vir ons ’n langnaweek gee, dan bespreek ons summier Oudokter se huis. Deel van die Calvinia tradisie is die woordkompetisie. Jy moet opdaag met ’n nuwe Afrikaanse woord, of een waarvan die betekenis so onbekend as moontlik is. Die wenner is die persoon wat almal uitboul met sy of haar woord. So het skeletklets, koekstruif en porseleinskoeter al deur die jare deel van ons woordeskat geword. Vanjaar was petrichor my wenwoord en ook my innige wens vir Calvinia .


Mense wil altyd weet wat ons in Calvinia gaan maak vir ’n langnaweek. Wel, net mooi niks. Na al die jare pas ons Calviniahuis (nou bekend as die Rooi Windpomp) soos ’n ou pantoffel. Niemand hoef te wonder in watter kamer daar geslaap gaan word nie, want ons weet mos reeds. Dieselfde een as verlede jaar.


Die eerste aand gaan moeiteloos verby… legkaarte word uitgepak op die een groot sitkamertafel. Die ander een word ingerig vir kinders en studente met huiswerk en grootmense met koerante. Mens torring ook nie aan die spyskaart nie. Mikkie se aartappelslaai, boereworsrolle en ’n glasie wyn voor ’n lang vuur is net die regte begin vir maande se gesels inhaal.

Die enigste uitstappie wat ononderhandelbaar is, is die volgende oggend se koffie en skons by die Hantamhuis. Daarvandaan beweeg ons aan na die slaghuis om vleisvoorrade vir die naweek in te neem. Dan mik ons skuins oor die pad na die kerksaal vir pannekoek by Onse Mark. Soos gewoonlik stap ons daar weg met veel meer as wat ons beplan het. Op pad terug ry ons so ’n wye draai deur die dorp net om te kyk of enigiets verander het sedert die vorige keer. Die laaste uitstappie is om die watervlak in die dorpsdam te gaan bekyk.


Terug by die huis dra ons die stoele na buite en gaan sit in die son. Nogal met ’n boek. Soos wat die son skuif, skuif ons ook. Ons praat. Ons lag. Ons maak planne. Iemand gaan maak tee. Ons beny mense wat elke dag dié stilte kan beleef. Wanneer ons die laaste sonstrale geabsorbeer het is dit weer tyd vir vuurmaak. En nog gesels.


So vlieg die naweek verby. Ek het eintlik gejok. Ons doen nie niks nie. Ons siele kom tot stilstand, ons maak tyd vir mekaar, vang op met wat aangaan in mekaar en die kinders se lewens. En besef met groot opgewondenheid dat daar volgende jaar weer ’n Calvinianaweek gaan wees.


*Petrichor is die aardse reuk wat geproduseer word wanneer reën op droë grond val.

 
 
 

Comments


Volgende in Vonkel en Vlieg :

         Die brood is op!

  • Marida van Schalkwyk
  • born2bviolet

@2019 deur VonkelEnVlieg

bottom of page